Kleuter-Skermtyd (Deel 2)
Die balanseringstruuk
In Deel 1 het ons gekyk na hoe skermtyd die brein en ontwikkeling van 0–5‑jarige beïnvloed. In hierdie tweede deel fokus ons op praktyke wat ouers kan help om ’n gesonde balans te skep: hoe gewoontes werk en eenvoudige ingrypings wat werklik help.

Hoe gewoontes werk
Navorsing toon dat omtrent 40% van ons daaglikse gedrag deur gevestigde gewoontes beheer word. Gewoontes vorm deur drie elemente:
- ’n Sein (trigger)
- ’n Roetine (aksie)
- ’n Beloning
Byvoorbeeld: in ’n spreekkamer huil ’n driejarige (sein). Ma gee die foon (roetine) en die kind raak stil (beloning). Omdat die beloning onmiddellik is, word daardie patroon versterk en sal dit volgende keer makliker gebeur.
“Research shows that new behaviors require a median of 66 days to become automatic.”
- From knowledge to action: The habit formation framework
Verander gewoontes met doelbewuste ingryping
Om ou gewoontes te verander, moet ons een of meer van die drie elemente doelbewus aanraak. Praktiese en eenvoudige strategieë werk die beste:
Plaasvervangende items (die “wagsakkie”)
Hou ’n nood-speelsakkie in die handsak met inkleurkryte, plakkers, klein boekies, foto’s of ander ouderdomsgepaste items wat die kind kan besig hou wanneer ’n sein verskyn. Ververs die inhoud gereeld sodat dit interessant bly.
Verander roetines met eenvoudige “as/wanneer”-reëls
Koppel nuwe, klein gewoontes aan bestaande roetines. Byvoorbeeld: “Wanneer Mamma begin kos maak, haal jy die legkaartmatjie uit en bou ’n legkaart.” Sulke konkrete beloftes help om die ou roetine te verander.
Strukturering van die omgewing
Maak die gewenste keuse die enigste beskikbare keuse. Hou fone en tablette in ’n sigbare laai-area en maak sitkamers, slaapkamers en eetareas skermvry.
Plaas boeke en speelgoed op laer rakke sodat dit maklik bereik kan word.
Die skrywers Wood and Neal (2007) meld dat sulke konteks veranderinge baie effektief werk om seine van die proses effektief te hanteer.
Begin klein gewoontes (“tiny habits”)
Koppel nuwe, klein gewoontes aan daaglikse rituele.
‘n Voorbeeld hiervan is dat die fone en tablette in die laai-area gesit word wanneer ons begin eet, as ons klaar geëet het, gaan ons dadelik bad en na badtyd lees ons twee stories wat die kinders self mag kies. Dit moet altyd een Bybelstorie wees en een gewone storie. Ons bid saam, en dan mag ons nie weer uit ons bedjies opstaan nie.
Navorsing toon dat 80% individue wat klein gedragsgewoontetjies koppel aan bestaande roetines, binne so min as 5 dae daarmee kan volhou.
Spanwerk verhoog sukses
Wanneer gesinne in u vriendekring of familie dieselfde reëls toepas, maak dit dit veel makliker om vol te hou. Gedeelde reëls by maatjies en familie skep positiewe groepsdruk om die nuwe gewoonte te handhaaf.
Gebruik ’n gesinsskermplan
Die American Academy of Pediatrics en navorsers soos Carter et al. en Wood & Neal het praktiese template ontwikkel om gesinne te help. Voltooi ’n kort ooreenkoms wat by u gesin pas. Voorbeelde van items om in te vul:
Ons gesin se skerm-vrye tye:
- Oggend roetine voor skool
- Tydens etenstye
- Een uur voor slaaptyd
- Ander belangrike tye (noem)
Ons gesin se skerm-vrye zones:
- Slaapkamers
- Tydens etes by die tafel
- Ander belangrike plekke (noem)
Ons gesin se riglyne vir die inhoud van skermtyd
- Waarna mag die kinders kyk?
- Ouer btrokkenheid by die kontrollering van die die inhoud.
- Hoe gaan ons die inhoud kontroller?
Ons gesin se skermtyd-beperkings:
- Weeksdae
- Naweke
- Spesiale geleenthede aanpassings
(Die WHO beveel maksimum 1 uur per dag aan vir 2–5‑jariges)
Ons gesin se skermgewoontes:
- Hoe gaan volwassenes gesonde skermtyd aan die kinders demonstreer?
- Hoe gaan ons gesin skermtyd hanteer tydens sosiale byeenkomste?
Ons gesin se implementeringsmotivering (wanneer ...)
- As ons in 'n eetplek is, en moet wag, gaan ons ons spesiale wagsakkie gebruik
- As ons .... gaan ons ....
- As ons ... gaan ons ...
Praktiese wenke om gou te begin
- Berei ’n wagsakkie voor en hou dit byderhand.
- Kies vandag twee skerm-vrye ruimtes of tye as beginpunt.
- Vervang een skerm-aktiwiteit per dag met ’n kort gesinsaktiwiteit (lees saam, bou met blokkies, kort buitelewe-speletjie).
- Deel u plan met ’n vriend / maatjie en moedig mekaar aan.
Slotgedagte
Die kern is nie totale onthouding nie, maar doelbewuste balans. Fokus op die belangrike ontwikkelingsaktiwiteite wat deur te veel skermtyd benadeel word: gesprekke, spel, beweging en slaap. Met klein, volhoubare veranderinge — en ’n eenvoudige gesinsskermplan — kan u die kritieke leer- en bindingsmomente van u kleuter beskerm.



