Kleuter-Skermtyd (Deel 1)
Ontdek hoe skermgebruik die brein van 0–5‑jarige kinders tydens kritieke ontwikkelingsstadiums kan beïnvloed, watter risiko’s per ouderdomsfase voorkom, en waarom balans bo verbod staan.

Aangesien skermtyd ‘n algemene verskynsel in die modern samelewing is, ‘n verskynsel waarmee ouers, opvoeders en geestesgesondheidswerkers toenemend te doen kry, het ek dit goed gedink om met Kiddie Junction se ouers hieroor te gesels. Hoe meer navorsing ek gedoen het, hoe meer het ek tot die besef gekom dat hierdie onderwerp so wyd is en dat ek meer as een keer hieroor gaan skryf.
Wat bedoel ons met “skermtyd”?
Skermtyd verwys na die tyd wat kinders spandeer voor enige elektroniese skerm: televisie, rekenaars, mobiele fone, tablette en speletjies op draagbare toestelle. Internasionale navorsing toon dat kleuters onder 5 jaar in praktyk dikwels tot ongeveer 2 uur per dag aan skerms blootgestel word, selfs al raai die Wêreldgesondheidsorganisasie ’n maksimum van 1 uur per dag aan vir 2–5-jariges.
Hoekom is die vroeë jare so belangrik?
“The first five years of life represent a critical window for brain architecture, socio-emotional growth, language acquisition, and the formation of lifelong habits.”
- Digital Innovations in Education: Brief No 5
Skermtyd word deesdae amper sinoniem met ‘n digitale kinderoppasser. Toenemend sien mens kleuters wat in wagkamers, in kruideniersware trollies, by sosiale geleenthede, tydens kerkdienste, in motors, busse en sommer net tuis, besig gehou word met ‘n elektroniese apparaat, hetsy met televisie, ‘n mobiele foon, ‘n tablet of ‘n rekenaar. Dikwels haal die kleuter self die foon uit die moeder se handsak en weet dan ook presies hoe die apparaat werk. Vir ons as volwassenes is dit verstommend en eintlik so oulik, maar wat ons nie altyd besef nie is dat dit ook vir daardie kleuter verskeie nadele inhou.
Hoe skermtyd die brein per ouderdomsfase kan beïnvloed
Te veel skermtyd beïnvloed die kleuter se ontwikkeling negatief in feitlik alle areas. Ezequiel Molin gee ‘n baie insiggewende tydlyn ten opsigte van die 0-5 jarige kind se breinontwikkelingsmylpale en hoe skermtyd potensieel risiko’s inhou vir kleuters se breinontwikkeling:
0 - 6 maande
Neurale breinverbindings word gevorm, sensoriese ontwikkel van visie, gehoor en aanraking vind plaas en vroeë emosionele vaardighede soos glimlag en spesifieke huil response word gevestig.
Skermtyd tydens hierdie fase kan binding met die versorger negatief beïnvloed, minder oogkontak tot stand bring asook sensoriese oor-stimulasie tot gevolg hê.
6 - 12 maande
Taal en herkenning van bekende woorde, verbeterde visuele en ouditiewe geheue, versterking van emosionele binding en nabootsingsvaardighede is die vernaamste ontwikkelingstake van die brein gedurende hierdie fase.
Skermtyd gedurende hierdie fasse kan lei tot verminderde aktiewe spel en gesig-tot-gesig interaksie. Ekspresiewe taalontwikkel kan ook vertraag word indien skermtyd menslike kommunikasie vervang.
1 - 3 jaar
In hierdie fase vind snelle taalontwikkeling plaas, eerste woordjies word gesê, groot- en fyn motoriese vaardighede ontwikkel nou vinnig, roetines word begryp en die oorsaak-en-gevolg in interpersoonlike verhoudings word nou beter verstaan.
Die risiko’s van skermtyd in hierdie fase van ontwikkeling is spraak-agterstande, simboliese spel en sosiale interaksie word verminder.
3 - 5 jaar
In hierdie ontwikkelingsfase vind daar vinnige ontwikkeling in self-regulering, werkende geheue en beplanningsvaardighede plaas. Sosiale vaardighede komplekse taalgebruik en simboliese denke, samewerkende spel en narratiewe spel is nog van die vaardighede wat in hierdie ouderdomsgleuf plaasvind.
Die risiko’s van te veel skermtyd of skermtyd waartydens daar geen supervisie is nie mag die kleuter se slaappatrone, algemene gedrag en fokus vlakke negatief beïnvloed.
Balans — nie ’n totale verbod nie
Wanneer daar na die negatiewe aspekte van digitale skermtyd verwys word, beteken dit beslis nie dat hierdie tegnologie afgeskiet word nie. Hierdie is ‘n wonderlike tegnologiese uitvindsel en, kom ons wees eerlik met mekaar: dit is onontbeerlik vir en in die hedendaagse samelewing.
Die gulde geheim is en bly steeds balans. Die gesegde “Te veel van ‘n goeie ding is nie meer goed nie” bly ook in hierdie situasie so waar. Die doelwit moenie wees om digitale skermtyd heeltemal te elimineer nie, maar om eerder die gebruik van hierdie tegnologie so te reguleer dat die krities belangrike ontwikkelingsfases van die kleuter beskerm word.
Waarom dit moeilik is om balans te vind
Nou kan ons vra: "Wat is die oplossing vir hierdie balanseringstruuk?"
Die oplossing is nie simplisties nie. Die hedendaagse gesinsopset wêreldwyd is van so ‘n aard dat ouers en gesinne hul toenemend in komplekse gesinsituasie bevind.
- Toenemende werk- en finansiële druk,
- Veranderde werksomstandighede van ouers,
- Kinders wat toenemend blootgestel word aan portuurgroep druk waar dit ondenkbaar is vir ‘n kind om sonder ‘n foon te wees as al die ander maats ‘n foon of ‘n tablet het,
- 'n Onderwysstelsel waar leerkragte toenemend staatmaak op tegnologiese apparate om kinders te onderrig.
Uiteindelik bevind ouers en versorgers hulself in die netelige posisie waar hul kleuters, saam met die ouer boeties en sussie in die huis, verslaaf raak aan skermtyd.
Wat volgende?
In Deel 2 sal ek praktiese idees en voorstelle gee wat u as ouer kan help om skermtyd vir u kleuter realisties en doeltreffend te balanseer.
Kiddie Junction se boodskap aan ouers
Ons wil u aanmoedig om bewus te wees van wanneer skermtyd help en wanneer dit kinderontwikkeling kan belemmer. Met ingeligte keuses en duidelike grense beskerm ons die waardevolle leer- en bindingsgeleenthede in die eerste vyf jaar.



